‘n Baie belangrike hof uitspraak het “Save Ngwathe” hierdie week met hernude ywer besiel toe die Vrystaatse hooggeregshof uitspraak gelewer het, waarin bevind is dat ‘n raad nie dienste mag terughou in gevalle waar daar ‘n dispuut met die raad verklaar is.
Soos dit tans staan is Save Ngwathe juis besig om sy +/- 4000 lede aan te spoor om dispute met die raad te veklaar, waar rekeninge bloot op skattings gelewer is.
In die hofsaak (Sien uitspraak hier) het die stadsraad van Reddersburg sakelui se krag en water afgesny desnietteenstaande die feit dat n dispuut teen die raad verklaar is nie.
Die hof het in sy uitspraak daarop gewys dat die stadsraad van Reddersburg nie die reg gehad het om die dienste te beëindig nie.
Die hof het die saak op n dringende basis aangehoor en die stadsraad se handeling gestop en die raad beveel om die koste van die saak te betaal.
Hierdie is n baie belangrike uitspraak en “Save Ngwathe” word ook geluk gewens met die prestasie waarmee hy die dispute daagliks boekstaaf.
Alles is darem nog nie tevergeefs nie.
Sien gerus die agtergrond tot die bevel hier.
Dit is dus elke inwoners se verantwoordelikheid om nie maar net agteroor te sit en te kla oor hoe dit in Parys gaan nie.
Die bietjie moeite wat dit verg om ‘n dispuut in te dien, gee jou as individu die regsgronde om jou stem dik te maak.
Indien daar ‘n gesamentlike poging deur al die inwoners aangewend word om die proses te volg, plaas dit die beheer en mag in ons hande as inwoners om ons geliefde dorp te red en te laat vooruitgaan.
Indien die munisipaliteit enige persoon probeer boelie in die verband, hetsy met die indiening van die dispuut of gedurende die proses, kontak Save Ngwathe gerus.